Botas

En soos jy reis is daar daai dae wat jy net niks moet doen nie. Opgeloop, moeg gesoek na plekke en vliegtuig kaartjies. Vandag wou ons na die dam gaan kyk, maar die minimum ouderdom is 12 jaar. Dan lees mens maar oor die mensdom se wonders en wat hulle alles aanvang om water en elektrisiteit te kry. Watse planne hulle in hulle koppe bedink om te oorleef…en dan wonder jy of dit nie lekker sou wees om so dam iewers in jou eie land te hê nie. Dan sou die paaie beter gelyk het, en die verkeer sou minder gewees het. Steenkool verskaf uitkoms aan baie in ons land, maar hel dis ‘n lelike ding as jy om jou rondkyk. 

Vandag soek ons Foz se grootste inkopiesentrum. Dis so 1.2km van ons af so ons stap gou daarheen. Dis weereens baie warm en teen die tyd wat ons daar kom is ons sopnat gesweet. Die dorp het nie genade vir voetgangers nie. Rio was oulik. Voetoorgange was so 5 meter van die straat se hoek af. Motors kry dus kans om te sien en te stop. Die stad het ook net hier en daar ‘n dubbel weg vir teenoorgestelde verkeer. Dis strate op die strand, deur die tonnel, om die meer. Die res is almal eenrigtings. As jy stap moet jy dus zig-zag om oor strate te kom, want jy kruis nie voor motors nie. Die verkeer vloei en die mense stap en as jy voor ‘n motor instap het hy geen genade nie. Hy ry! Wat my opval tot nou is dat die mense die hel uit die motors ry. Almal klim in, sit voet neer en jaag. En dis almal. Van busse, tot taxi’s. Ek is skoon op my senuwees as ek in ‘n taxi moet klim. Die mense is bezerk as dit by ry kom.

Foz het geen verkeersligte vir voetgangers nie. Jy kyk daai straat goed deur, gryp die kind aan ‘n arm en wikkel oor die pad. Elke straat het wel kans vir motors om te draai, so jy kry ‘n redelike kans om te stap. Voetoorgange is geverf, maar geen ligte nie! 

Die inkopiesentrum is klein. Drie vloere en niemand gaan hier verdwaal nie. Genoeg om te koop vir alledaagse gebruik, van kruideniersware tot klere…maar niks ordentlike skoene nie. Ons het in Suid-Afrika besluit om hier skoene te koop vir die koue plekke. Seker nie so goeie besluit waar ek hier in die winkels rondkyk nie. Die mense dra net hoë hakkies en leer vir partytjie. Ek weet nie waar die boere koop nie, of dalk dra hulle net plakkies. Ons koop vir my en die kinders iets. Abré het sy ou stapskoene ingepak. Myne sit nie lekker nie en die kinders het nie gehad nie. Ten minste gaan Abré lekker stap! 

Ek sien skoon op om die warm skoene te dra, maar dit sal moet gebeur! Gelukkig sal dit een van die dae welkom wees in die kouer weer. Terug huistoe. Môre is dit vroeg oppak en Argentinië toe gaan vir die Iguazú valle van die ander kant af, en dan later die middag vlieg ons Buenos Aires toe. 

Ons sit en doen bietjie Wiskunde met Lenka en Janko. Dis beter as speletjies op die iPad. 

Vanaand gaan eet ons by ‘n Churrrascaria. 

Heerlik! Julle sal almal daarvan hou. Baie slaaie, nagereg van goeie Braziliaanse sjokolade en dan stap die manne rond en bedien braaivleis, net soos by Carvers, maar die atmosfeer is anders. Gebraaide pynappel, hulle pynappels is wit. Die oom het heel aand vir Janko oë getrek en hom aangehits om van alles te eet. Hy het dit baie geniet! 

Hier kom mense met kinders, almal sit in lang rye tafels en kuier met cerveza. Ander bestel van die spyskaart af. Hulle het seker al geleer jy eet andersins te veel, of hulle weet watter snit en manier van geur lekker is vir hulle en bestel net dit. 

Ons eet lekker, Janko is amper flou van baie vleis proe, want alles lyk lekker soos die handige vriendelike manne dit aandra. Vanaand gaan almal lekker slaap, want die mense ken van braai en die vleis is regtig heerlik! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *