Iguaçu from Brazil

11Feb. So they say it is one of the 7 natural wonders of the world…and so it is! 

Met Abré se foto op ons familie groepie antwoord Evan:”Dit lyk soos ‘n properse waterval daai!” En dit is verseker. Ons het weereens laat aan die gang gekom. Min geslaap op die bus, maar gelukkig verkoop die eienaar van die plek waar ons nou bly beddens in Foz…so ons kon en het, lekker gemaklik geslaap. Ons plan is om vandag die Iguaçu (soos in Brasil geskryf) te gaan besoek, asook die voëlpark net reg oorkant die valle. Opgestaan en reggemaak vir die dag. Ons pak maar altyd iets om te eet. Vandag was dit lemoene, broodjies met tuna, slaai en wortels. Ons is reg om te gaan. 

Ons kry die bus so blok van die woonstel af en die rit na die grens begin. Dit vat ongeveer 45minute tot daar. Die bus maak eers ‘n draai by die lughawe, draai om en laai ons voor die ingang af. Ons koop kaartjies, vandag se toegang was 132R$ die kinders het verniet ingegaan. Binne-in die park ry jy so 15minute bus tot by die valle. Daar is verskeie busstoppe vir die bootritte aan die onderkant van die valle, by die hotel, en ook ‘n 9km stap en rit deur die woud langs die Rio Paraná. Dis die 7de grootste rivier in die wêreld. 

Ons klim af net na die hotel, en stap die pad af na die uitsig oor die valle. Dis pragtig. 

Stap verder op die roete en kry kans om op “Devils throat” te stap en sopnat te word van die sproei. Janko het dit vreeslik geniet en ek moes heelpad net vrae antwoord oor “river rafting…”

275 verskillende watervalle. Soos jy aanstap sien jy om die volgende draai nog ene en nog ene. Kleintjies hier en daar. Die grootste ene is Garganta del diablo – the devils throat. Dis regtig asemrowend om te sien hoe die water net aanhou val met brute krag. Sommige plekke bruin soos die aarde saamgesleep word teen sy wil en oor die afgrond gegooi word met wit donder! Die sagte mis sproei as lafenis vir die hitte, maar ook herinnering van die woeste hoeveelheid water wat elke sekonde hier verplaas word. Die plantegroei is groen, die lug blou! Ons het ‘n goeie dag! Een oomblik sien jy reënboë oor die valle en as die son effens skuif is daar weer nisk! Ek kan sien waarom die film UP se ou tannie net daar op die Angle falls nes wou skrop! 

Ons eet iets en is baie versigtig vir die coati wat aas en aggresief raak rondom kos. Hier kan die parke gerus BAIE tips by Suid-Afrika se natuurbewaring kry rakende asblikke, boetes vir voerders van diere. So, as jy ‘n geleentheid soek, voer jou dier bestande asblikke Iguaçu toe uit! Ek was skoon geirriteerd met van die mense! 

 

Bietjie droeër vat ons die bus terug hek toe…en net daar is my selfoon soek! Janko onthou waar ek dit laas neergesit het. Ons klim af, en ry weer terug. Ons kry dit by die info kiosk! Dankie tog!

Nou gaan ons die voëlpark besoek. Parque das aves. 

Ingang is baie, duurder as die valle want hier moet die kinders betaal, 30R$ per persoon. Ek doen maar voorsorg en smeer elkeen so vee muskietweerder, alhoewel dit toe nie so nodig was nie. Ha! Of dalk het dit net gewerk!

Dis lekker warm in die woud, orals hokke met eksotiese voëls. Daar is ook verskeie wat uit ander lande kom, soos fisante uit Indië en die mahem van Suid-Afrika. Flaminke, pappegaaie in hulle hordes. My gunsteling die macaw en Lenka is baie opgewonde oor die toucans wat sy kan fotografeer. 

Ons geniet dit, sien baie van skoonma se eende wat sy een op ‘n tyd gehad het. Dis warm, ons drink baie water! Hoër in Foz drink ons kraanwater, soos baie mense doen. Seker net toeriste wat water koop. 

Is al 19:20, die son is nog hoog en ons gaan nou iets soek om te eet. Gelukkig is my wasgoed droog!

Vars suurlemoensap. Buffet, altyd ‘n wenner. Kinders skep self op so hulle mag nie kla nie! 

Die Rio Paraná voer een van die grootste damme, (die Itaipu dam) in die wêreld. Foz is 200m bo seevlak, wat veroorsaak dat hier baie vog saamkom weens die kondensasie van die water op die Itaipu dam. Een van die 7 moderne wonders van die wêreld! Die dam het die wêreld se grootste waterval per volume verdrink…ingesluk…die bestaan dus nou nie meer nie.  Die dam is een van die duurste konstruksies wat ooit gebou is…

Ons wou dit gaan besoek het, maar die minimum ouderdom is 14jaar. Die dam het baie meer draadwerk as wat net in die beton is! 

 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *