Reis…

Ons is 4:30 op en oppad na die ferry. Eers als regmaak, ‘n broodjie eet en dan stap ons die 1.3km na die taxi. Dis ‘n lang hartseer stap van Isla Isabela af. Hier is alles nog mens. Fietse in die strate. Kleuters wat oor en weer speel in die aande terwyl die ouers op die stoep sit en kuier.  Tieners wat sorgeloos in die strate loop en ander wat fietsry en lag. Tien jariges wat winkel toe gestuur word per fiets…fietse wat neergegooi word en later weer net daar opgetel word. En dan sê Lenka:”ek wens ek kon so alleen rondloop…” 

Ons klim op die taxi en ry ‘n ent na die ferry. Opklim en regsit. Die ferry is kleiner as die een waarmee ons gekom het, ons is net 24 mense aan boord. Die keer is die tasse mooi in die “tassekamer” gestoor en daar is baie ruimte vir voete en daypacks. 

Die enjin raas, soos altyd. Vanoggend is dit bewolk, maar ons sien met die wegtrek die son deur die wolke skemer. Oppad is daar twee kinders wat seesiek raak en dis nie lank nie of Janko sing dieselfde deuntjie. Abré het vanoggend sy anti-naar pilletjie gedrink so hopenlik hou hy. 

Ons klim op Santa Cruz eiland af en bespreek ‘n taxi vir bietjie later. Die ferry is so 42km weg. Nou wil Lenka eers al die duisende dollars wat ons nog oor het gaan uitgee. Ek sal moet help! Sy koop vir haar ‘n blue-footed booby necklace en ‘n ray uit silver. ‘n Kettingtjie om dit aan te hang en ons is oppad. 

Ons is gelaai op die taxi en ry tot by die ferry. Ons het so 10minute so ek skil gou vir die kinders elkeen ‘n laaste lemoen. Die naranjas het klipharde skille, is soos lemoene aan die binnekant en is stroopsoet. Die ferry is net so 200m oor die see. Ons klim in die bus en ry die 15minute lughawe toe. Nou is dit weer tasse incheck en wag. Ons eet gou iets op die lughawe, dit is al by 12:00. Met die opklim word Abré eenkant geroep oor sy bagasie. Die keer is Lenka skuldig! Hulle betrap haar met vulkaan as in ‘n sakkie in haar tas. Weer trane… Die kom nog saam uit Puerta Varas. Sy het seker al lankal daarvan vergeet! 

Ons is oppad. Kry heerlike piesang chifas op die vliegtuig, ‘n quinua snackbar en grondbone en rosyne. Dit sluk jy af met ‘n glasie van jou keuse. Ek is vas aan die slaap! Abré is ook pootuit. Ons het seker niks geslaap nie, net vir die wekker gelê en wag. 

Op ons stopover by Guayaquil word die vliegtuig volgemaak, ons wag vir die res van die passasiers om op te klim en dan is dit reguit Quito toe! Quito is net 35minute verder. Die vliegtuig is stampvol! Sjokolade voor jy afklim. Ons land oor so 5minute. Dan is dit tasse en wat nog alles oppad na Lima! 

Lima kom ons laat aan, kry geen bagasie nie, so ons moet reël om klere uit te haal om iets te hê om in te slaap. Lima is kouer as Quito! Dit reggekry, maar Abré se sak is soek. Hier kom drama… En so slaap ons die aand op die lughawe ons paar uurtjies se wag af. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *