Isla Isabela

Galapagos, kontras. Die warm water met koraal en tropiese oseaan, met kaktusse op die strand. Langs die kaktusse en lawa klippe is daar mangroves en varswater. Iguana’s langs boobies, pikkewyne en seeleeus. Pikswart vulkaan klip op die witste strande. Eco toerisme en bewaring… langs die laaste 100 pikkewyne wat aan die uitsterf, terwyl honde en donkies rondloop… Cool vakansies terwyl aardverwarming alles bederf. 

Dis ons laaste amptelike dag op die eiland. Vandag gaan ons snorkel en fietse huur om bietjie rond te ry. Ons doen ‘n snorkel rit na aan die hawe, waar jy drie plekke besoek, ons swem sommer van een na die ander. By die tonnels kan mens seeperdjies sien teen meer as dubbeld die prys…as die kondisies reg is. As die temperatuur verander is hulle weg, elders… Ons gaan die baai snorkel. Hier is ‘n staproete ingesluit waar jy na voëls kan kyk, die oulike boobies sien kuier, pikkewyne, iguanas en dan die kloof in die see met die white tip haaie. 

Ons neem ons boobies af, kyk na die troppe klein iguanas wat hand om die lyf in die son baai en stap oor na die haaie. Drie soorte haaie is nie gevaarlik nie. Die nurse sharks, wat ons ook in Sodwana en Aliwal Shoal kry, die white tip wat ons hier sien en nog sandhaaie. Die is rif haaie, bly in vlak water en het nie nodig om te swem om asem te haal nie. Dis net jammer die haaie weet nie dat hulle nie gevaarlik moet wees nie… Die ander haaie swem in die ope oseaan. Hulle moet beweeg, eet minder gereëld en eet dan meer, hulle weet hulle moet gevaarlik wees! Hulle is dan seker ook slimmer haaie! Hulle het 36 hoeke van tande waar die rifhaaie net 26 het. 

Ons is in die water en reg vir snorkel. Die kinders is uitgesorteer en dinge gaan maklik vandag ons swem gou-gou saam ‘n skilpad of twee, dan kom die seeleeu ons vergesel en die pikkewyne duik ook in. Hier is nie so baie klein vissies nie, dis meer water diere. Ons sien wel ‘n boxfish, wat nie giftig is om aan te vat nie, maar dodelik as jy hom eet. 

Dan swem ons aan waar Janko ‘n seeleeu sien. Hy sien ‘n seekat met die seeleeu ‘n onderonsie hê en dis nie lank nie of die seekat word seekos! Wat ‘n spul! Die seeleeu hap en eet bo water en gaan weer af en kry nog ‘n happie! Dit was nou oulike gewees, soos die gids sê National Geographic live!!

Na ons gegroet het en weer in die dorpie afgelaai is gee ons die wetsuit wat Janko gehuur het in. Ons gaan huistoe, trek droog aan en stap om fietse te huur. Ons gaan die roete ry wat Abré nou die dag gestap het. Ons wil kyk of ons nog Isabela skilpaaie kan sien rondloop op die eiland. Ons ry met die strand af. Dis nou lekker fietsry! 

Die fietse is totaal en al geroes. Ons kry ewe ‘n pomp en mooi instruksies van al die dubbeltjies op die pad. Ons is vort. Ons het nie ver gery nie toe my fiets se jocky totaal en al uitmekaar trek! Opgeroes! Abré sê hy sal die fiets terugvat, hy het al die roete gedoen, ons moet gaan kyk. Ons ruil fietse en hy stap terug. 

Ons ry by die groen mere verby, so ook by die afdraai na Isla Amor. Verder in na die Estuary. Hier parkeer ons die fietse en loop die mangroves binne om te gaan kyk hoe dit lyk. Die baai is vol voëls. Pelikane dryf en vlieg die wêreld vol. Ander seevoëls vlieg hier rond, dis heel anders met die branders wat so breek. Uit die regterkant kom daar water ingeloop van die mangroves af. Die golwe hou nie op die, die voëls sit nie stil nie, dis besig hier…met of sonder ons hier! 

Ons stap terug na die parkering en draai die keer regs af. Ons stap deur die mangroves. Hier is 4 soorte te sien. Die rooi, wit, jellie of button en swart. Die swart mangroves is groot en dik. Die rooi is mooi met die groen blare as kontras. Ons kry die fietse en ry so ent uit na die wall of tears. Ons sal dit nie maak nie want ons moet amper terugdraai. Ons ry dus tot ons die eerste skilpad sien! Dit vat nie lank nie! 

Oppad terug sak die son vir die laaste keer vir ons oor Isabela. ‘n Hartseer wolkie in die verte, wat in my gedagtes sak oor baie van die diere van die aarde. Die seeperdjies word minder, daar is sowat 100 van een van Galapagos se pikkewyn spesies oor…alles aardverwarming. Wanneer gaan iemand iets doen. Wanneer gaan ons minder vleis eet, minder beeste aanhou. Wanneer gaan ‘n vulkaan of 40 weer uitbars en die aarde vir ons afkoel, of moet ons die self fabriseer…oor nog 10 jaar is die pikkewyne weg…geen broeiprogram, geen ingrypende aksie om hulle te red nie. Wat gemaak… Die son sak, vir my ‘n laaste keer, vir lonesome George was die dag 24Junie, wanneer sal die laaste pikkewyne groet. 

Dis donker toe ons die fietse ingee. Abré het ons kom haal. Hy en die kinders ry aan. Ek stap rustig met my eie gedagtes, my eie wonder oor die lewe, oor môre, Johannesburg. Die moord in ons land wat stil-stil aangaan. Die stil oorlog waaroor niemand praat nie. Bietjie vir bietjie. 

Moedeloos. 

Ons gaan eet in die toeriste area uit. Ek en Lenka eet seekos, Abré ‘n Seviche en Janko baie rys en vis. Dit was ‘n goeie laaste maal…nie cuy nie! Vis klink beter!!

Tuis pak ek tasse, kyk vir ‘n laaste keer rond en maak seker ons het alles. 

Nag mense, Isabela en drome van gister…

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *