Al die see na Isla Isabela en Darwin

Isal Isabela is op die lyse weens die vulkaan, die pikkewyne, mooi snorkel areas en die klein populasie. Dis meer eiland as dorp. Die kaartjie $30 per persoon en ons werk uit dat die boot so R100000 vir die trippie moet inbring. Nie sleg vir ‘n Sondag middag nie. As daar dan drie Neptuno bote in die baai staan, en die bote ry daagliks vol toeriste en locals, is die eienaar seker voltyds besig om geld te tel.

Ons pak sakke terwyl die kinders speel. Ons maak waterbottels vol en herorganiseer dinge sodat die boots nog een keer gedra kan word, as ons die vulkaan gaan stap. 

By die taxi-rank is daar baie mense. Almal wat die na-week gekuier het gaan terug Isabela toe, dis inkopie sakke en partypacks. So wag ons vir die taxi, teen $1 om ons sowat 50m oor die water te vat na die boot. Neptune vat ongeveer 2 ure om tot by Isabela te ry. Orals sit mense met knikkende koppe en wag dat die eiland nader kom. 2 ure is lank! Die see is mooi, en daar is ‘n paar bote op die taxi roete te sien. 

Isabela is eiland. Dis sand paaie en als is ver uitmekaar. Hier en daar staan iemand en braai vis, vleis en hoender oor ‘n vuur en jy kan ‘n bord kos hier koop teen $6. Jy gaan niks goedkoper kry nie. Ons pak ons sakke neer en Abré soek verblyf. Die paar plekke oppad reg teen die strand is vol…dink seker ons is van Argentina of Israel! Ons kies ‘n groot Hostel, of eerder hotel. Bly op die derde verdieping en daar is twee hangmatte op die stoep om die hoek wat uitkyk oor die dorpie. 

Dis bewolk en ons is donker by die hostel. Ons stap ‘n draai en gaan eet vir $36 eiland vis en vrugte. 

Na ete kyk en lees ons nuus oor die mal wêreld waarin ons leef, en die tragedie in Orlando. As mens so na die mense om jou kyk lyk die eiland na min stimulasie…maar as jy die nuus dophou klink dit na ‘n beter lewe as die gejaag en stres van oorlewing. Snaaks dat Darwin hier moes land en skryf oor die oorlewing van die sterkste en die belangrikheid van natuurlike seleksie vir die oorlewing van ‘n ras of spesie. As dinge so aanhou is die dalk die enigste plek wat weereens na alles sal oorleef en lewe moontlik maak. Dit daar buite is nie leef nie…dis net oorleef. 

Hier opsoek na blyplek loop Abré in ‘n tannie vas. Sy werk by ‘n hostel se ontvangs. Dalk is sy die eienaar. Sy het in 1974 hierheen geemigreer…sy kom uit Johannesburg…Blairgowrie. Dat sommige mense so lank terug al sulke besluite kon neem is te oulik en wonderlik. Hier is ek 43 jaar later en kan nie eers my huis verkoop kry nie, wat nog voete se stof en bloed afwas en wegloop! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *