Fietsry is ‘n moet op elke eiland. Daar is oulike paaidjies en almal doen dit! Klein en groot, oud en mooi…of as ek so na die kuite kyk rooi! Die kinders huur elkeen ‘n fiets en vat die pad na die taxi rank toe. Hier op die sementblad gaan hulle ry en dis redelik sentraal vir my om ‘n ogie te hou. Hulle kan huistoe en terug en heen en weer. Ek maak van die geleentheid gebruik om so paar fiets stoeltjie idees af te neem. Mens weet nooit wie soek ‘n nuwe tydverdryf nie. Sodra ‘n kind hier regop kan sit en vashou is fietsry aan die orde van die dag. Dis vermaak vir groot en klein. Kyk hoe lekker kraai die ene! Sodra hulle self kan ry is dit twee-twee in die straat af. Hulle is streetwise van kleins af. Die motoriste ook…hulle kyk uit vir fietsryers.  

Na die taxi area gaan ons huistoe vir swemklere. Nou ry hulle die anderkant heen na die Darwin sentrum se kant toe en ek loop na die strand. Hier kan hulle als bekyk, skilpaaie, iguana’s, marine iguana’s en as hulle moeg is kom swem. So ook gemaak. 

Vanmiddag nooi ons gasvrou Yolanda, ons vir die tradisionele eiland gereg seviche. Die lemmetjiesap, koriander, peppers, rooi uie en vis wat bedien word saam diepgebraaide piesangs, en rys. Die vis proe soos rollmops, heeltemal te veel suur vir smaak. Tog nie sleg nie. Lenka kry skaars ‘n happie in terwyl Janko glad nie omgee nie. 

Dis Saterdag en die hele dorp is doodstil. Abré gaan mark toe vir vis, want vanaand gaan ons sommer self visbraai want hier is ‘n braaier. Ons lê rond, stap strand toe en relax sommer net. 

Visbraai gaan saam aartappelslaai en Yolanda maak piesangs op die vuur. Dis die groen eiland piesangs. Hulle eet dit glo so gebraai saam koffie vir ontbyt in plaas van brood. Dit is orals te sien. Vir my proe dit na karton. Hard buite en sagter binne. Geen smaak, maar sy is mal daaroor. Nood leer bid en hier is piesangs seker deel van die nood en die leer aksie. Abré tooi dit op met ‘n warm sousie en dan is dit glo lekker…soos alles wat met tamatiesous en tobasco gestrooi is. Hulle vat die piesangs en diepbraai dit as chipas. As jy so bietjie sout oorgooi is dit heerlik. Soos alle diepgebraaide sout chipas! 

Na ete sit ons lank en gesels oor die wêreld, Ecuador wat onlangs vir Japan ‘n eiland as sekuriteit gegee het…hoe hulle eendag ‘n maand vir die mense in Quito moet werk vir aardbewing hulp. Dan ‘n ander draai. Toeriste wat verdrink, vermis raak. Die legende van die mense wat elke nou en dan hier verdwyn het na aan een of ander area…en toe verdwyn drie mense wat al jare daar bly ook sommer, spoorloos. Hoe ‘n man op die waterfront huistoe geloop het en nooit daar aangekom het nie, in ‘n besige reguit straat. 

Dan nog ‘n oulike staaltjie. Op die eiland is daar notas oor toeriste, deur die toeroperateurs. So kla jy oor toeriste. So 9 jaar terug het  hulle ‘n tendens begin sien dat die Israeliete hier aankom in groepe van 10 en meer. Dan raid hulle die plekke behoorlik. As daar tamatiesous op die tafel staan word alles geëet. ‘n Bottel vir twee. Met buffet, word alles dood eenvoudig in bakke gepak en fort gevat. Toe begin hulle die arme mense weier. As jy bespreek is die toer vol. Die hostel het nie plek nie en die Hotel oorbespreek. Vandag kom hulle glo min. Twee-twee maar die groepe glad nie meer nie. Wat nou op die lysie is, is die Argentyne. Yolanda het al ‘n review gehad dat die plek nie ‘n hysbak het nie 3 verdiepings… Die plek is vol crocodillas – geitjies is glo krokodille – en so gaan dit aan. As jy deesdae van Argentina kom het baie nie plek nie. Hulle kla oor alles en gee plekke slegte ratings, wat hulle natuurlik nie kan bekostig nie. Dit het ons ook gesien. As mense kla kan jy maar gaan kyk hulle ratings op alle plekke is sleg. Dan ignoreer jy dit maar net. 

Lekker gekuier en vis geëet. Vanaand droom ek van vermiste persone…