Las Grietas

Las Grietas is ‘n skeur in die aarde, gevul van bo met brakwater wat deursyfer en onder kom daar seewater in. Daar is visse, vyf soorte. Dis ideaal om te swem, en so bietjie jou snorkel vermoeë te oefen. Ons gaan kyk hoe dit lyk. Jy vat die water taxi oor na die oorkant van die baai. Dis so 5 minute se bootry. Verskeie passasiers word op bote, en cruize skepe afgelaai oppad. 

Hier stap ons die vulkaniese klip voetpad tot by die baai, Playa de los Alemanes. Bekyk die rooi mangroves van Galapagos. 

Dis laagwater, die baai lyk heel beskut, maar dis maar vlak en ek twyfel of hier veel vir die snorkel bril gaan wees. Ons stap aan. Regs is ‘n sout meer, Las Salinas, mooi pienk van bakterië en eenkant staan ‘n paar sakke sout wat geoes word. 

Nou word die pad bos. Die digte plantegroei en die mooiste kaktusse wat orals staan en sonskep met hulle donker bruin stamme. Natuurlik is daar baie voëls te siene, eende, geel vinkies en die swart Darwin vinkies. 

Ons kom by die skeur en hoor ons mag nêrens afspring nie, net van die sowat een meter platvorm. Seker met rede. Ons kry ons snorkel reg en is in. Die water seker so 10 meter diep, die son baie helder en so ook die water. Ons sien nie baie visse nie, een skool groot visse en so paar kleintjies op die rotse. Nou is dit oorklim tot by die volgende poel. Hier is ander visse. Ons swem so paar draaie en keer terug. Die mense van die dorpie het gearriveer en nou is almal hier. Ons is klaar, pak op en stap huis se kant toe. 

 

Oppad terug besluit ons om by die baai, Playa de la Estación te gaan. Hier is ‘n hele klomp mense en veral ma’s met kindertjies. Almal speel in die sand en swem in die vlak water. Ek en Lenka swem so draai in die see maar die golfaksie maak baie sand. Nou sit die twee en speel in die sand, ek doen oppas werk en Abré stap terug om die snorkels terug te vat. 

Dis al donker toe ons by die huis aankom. Ons maak tuna slaai vir aandete, doen ons wasgoed by die landlord en is reg vir ons toer môre na Sante Fé! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *