Galapagos…so ver!

Galapagos is ons keuse, bo die Amazone, vir ons laaste stop. Die logistiek om beide te doen sou nie werk nie, twee pole! Volgende jaar sal ins vir Ferhardt in die Amazone gaan kuier! Ons gaan dus na die laboratorium van Darwin kyk, na diere wat geen vrees het vir mense nie. Na plante en diere wat op uitsterf lê. Dit na hulle miljoene gevat het met evolusie om te bestaan is hulle nou mooi netjies besig, om weens die mees evolusionêre dier, die mens, uit te sterf. 

Ons vlieg 24:00 en ons land skaars twee ure later in Quito. Dis doane, bagasie kry en dan die groot wag. Ons moet weer 06:00 incheck vir die vlug na Galapagos, wat ‘n stopover is. Ek het daai lughawe met sy paar regop stoeltjies net een kyk gegee en besluit die kinders -never mind ek- gaan dit nie maak nie. Ek ruk my slaapsak en kamp matras uit en gebied hulle om net daar te lê en slaap. Dit was seker die beste besluit. Hulle is dadelik weg, en ek en Abré is so aan en af weg en weer terug uit kop-knik land. Dis maar sleg. 

Teen 4:00 is ek wakker en teen 4:30 besluit ek ek gee op. Nou wag ek vir die horlosie om almal wakker te maak en om in te check. Ons is op die vliegtuig nadat ons deur streng doane is vir kos en ander dier produkt.  Nou is ons oppad. Ons vlieg 35min tot op ons eerste stop, Guayaquil, ‘n stad onder Quito. Hier klim amper die hele vliegtuig af, en maak weer vol met nuwe vreemdes. Dan vlieg ons weer so 2 ure tot op Galapagos. 

Bo uit die lug lyk Galapagos groep baie bar. Dis droog, min plante en glad nie wat jy sou verwag van eilande op die ekwator nie. Maar dan onthou jy weer dis deur lawa gevorm, en weet jy dat daai bietjie groen daar onder deur harde vulkaniese rots, as en klip moes leer leef. So groot en uitgesprei lyk dit min, maar as ons nader kom sal dinge seker verander. 

Ons is teen 12:00 in die bloedige son van Galapagos. Uit die vliegtuig stap jy oor na die lughawe gebou. Die pad het ‘n dakkie van sonpanele, sement onder jou voete en verder net vulkaniese as en klippe, wat knars onder jou voete. Ai ek hou daarvan. 

Buite die lughawe kry ons ‘n bus na die ferry. Dit kos niks. Jy word net na die ferry gevat. Dis seker so 20minute se ry tot by die ferry. Hier laai ons tasse uit en klim op die ferry wat $1 kos per persoon. Die bus en die Ferry deel seker die kostes. Aan die anderkant is dit weer ‘n bus na die dorpie, Puerto Ayora, op die eiland Santa Cruz. Dis so uur se ry. Dit kos $2 per persoon. Dis bloedig warm op Santa Cruz, wat het jy gedink, dis die ewenaar die! 

Abré kry die werk om akkomodasie te soek terwyl ek al die sakke onder ‘n boom parkeer en relax. Ek kry my kamera en neem die flippen mooi see af. Geen nodigheid vir filters nie, hier lyk die water so mooi met die blote oog. Dis pragtig verby. Die kinders speel in die speelpark. Ek laat hulle sommer met ‘n handdoek broeke uittrek en kortbroeke aantrek. Skoene waai en plakkies en hoede is aan vir die warm sement en sand. 

Ons kry plek by ‘n oulike hotel, wat vir ons ‘n cottage het. Teen $100 per dag is ons ingeboek. Ons betaal so bietjie meer, maar soek eie geriewe, ‘n swembad en darm net spasie. Jy kan vir $45 bly in ‘n klein kamertjie met 4 beddens. Ons neem die groot besluit van spasie. 

Ons is uitgepak, ingetrek en afgekoel. Abré vat ‘n slapie, want hy is doodmoeg. Hy het ‘n draai gaan loop vir kos en homself simpel geloop agter die mark aan. Ek het so uur of twee geslaap. Nou vat ek die kinders en ons gaan stap met sonsondergang oor die eiland. Daar is paadjies waar jy mag en nie mag nie. Ons loop tot by die pelikaan mirador. Ons loop die vissers raak wat inkom, so ook die pelikane wat saamgaan, dan die robbe wat op die bankies slaap vir die aand. Hier is nie plek vir boemelaars nie. Hier is klaar genoeg. 

Die plein het ‘n sement blad waar kinders speel, vanaand is hier ‘n volleybal wedstryd aan die gang. Net 3 spelers per span. Kos word verkoop en almal staan rond en kyk. Dis gou oor en ons stap aan. Soos elke dorpie op die kus kan jy curios koop by doesyne. Dis egter alles in $ en jy besef gou hier gaan jy dalk net een item bekostig. ‘n Hempie teen R300 is ‘n bietjie vêr vir my sak op die stadium. 

Santa Cruz het nogal baie mense. Ongelukkig sien ek hier ook ‘n rondloper hond. Daar is orals borde op vir rommel, recycle, maar jy sien tog die odd gemors rondlê. Ek moet sê dit is deurlopend so gewees. Chile was die skoonste, as dit by die natuurplekke kom. Dis derdewêreld en die dorpe vieslik vuil. Nes Suid-Afrika deesdae lyk. Die ander probleem is die maskotas. Dis net absoluut onregverdig teen die arme goed. Wat vir my ook hartseer is is dat baie plekke Unesco status het, maar daar is geen projekte wat daarmee saamgaan nie. Daar is in die hele Machu Picchu net rommel om die plek. Binne die grense orals borde en asblikke, maar dit lyk nie of Unesco enige moeite doen met die opvoeding van die mense om die plekke nie. Die seker nie Unesco se werk nie, maar dit sou darm goed gewees het. Ek weet nie hoe lank dit volhoubaar sal wees nie. Dalk ‘n projek vir iemand met baie guts of verstand. 

Vanaand eet ons sommer net toebroodjies met kaas, tamatie en slaai. Môre sal ek die pasta, hoender en groente maak vir ete, nou is ons moeg en dink slaap is ‘n beter opsie. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *