El Chato- Skilpaaie en lawa tonnels

Vandag doen ons eers al die draaie na aan ons. ‘n Besoek aan die Darwin navorsings sentrum is natuurlik ‘n moet as jy op Galapagos is. Hier leer ons van die teëlprogram met skilpaaie, en hoe derduisende gevang is as kos vir seerowers. Die menere kan tot ‘n jaar leef sonder kos of water. Hulle is gevang en op skepe gelaai, op hulle rûe laat lê en dan geslag en geëet wanneer die seemanne kos nodig gehad het. Ander is bedreig weens die bokke wat op eilande bly. Die bokke vreet die kaktusse, wat die primêre kos is van een van die spesies. Vandag word daar kaktusse hervestig vir die skilpaaie. Kleintjies het kaktusse nodig vir skuiling. So probeer hulle hier al die verwoesting omkeer. 

Land iguanas, twee spesies word hervestig. Hulle is vernietig tydens die oorlog deur die VSA soldate. Vandag word grond ingeskeep vir neste sodat hulle weer kan aanteël. Die rare Darwin vinke wat met sukses uitgebroei en weer vrygelaat word. Die vinke is bedreig want vlieg larwes vreet die kleintjies, nou word vlieë gevang, gespuit en ten alle koste beheer. Hier is verskeie sale met inligting en alles word gelees. Van die sand, die diere, die skilpaaie, die eerste mense wat hier gevestig het. Op die eiland, moet mens net weet bly duisende mense, wat boer. Daar is honde, katte wat voëls vang, donkies, perde …. Jy sien dit steeds. Die 2.5% van die eilande wat wel bewoon word, na my mening, worry maar min oor die bewaring om hulle. 

Van hier stap ons die pad in die bloedige son terug na on Galapagos Pearl huisie. Ons eet middagete en vertrek na ons tweede ekskursie van die dag. 

Seker so 20km buite die dorpie is daar ‘n reservaat met skilpaaie, El Chato. Hier kan jy saam die skilpaaie rondstap. Daar is drie spesies te siene. Die mannetjies is die groot menere en die wyfies klein. Die ronde doppe is Santa Cruz, die Isabella is kleiner en platter en die San Christobal wat nog platter en pikswart is. Hierdie is Santa Crus skilpaaie. 

Die menere is groot, statig en modder is nie ‘n probleem nie, soos die gids sê, hulle is 4×4.

 

Van hier is ‘n kort stop by die lawa grotte. Die grot is seker so 400m lank en begin mooi groot en op sy wydste punt 5meter. Net voor die uitgang moet jy uit kruip, dit oorleef ek darm! Magma stol stadig buite na aan die oppervlakte. Binne loop die tonnels van warm magma dan leeg en laat die leë tonnels agter. 

 

Oppad terug is daar twee kraters of sinkgate waarna ons kan gaan kyk, Los Gemelos. Totaal en al gesink in die aarde en oorgroei. ‘n Paadjie deur die bos waar ons die bome inheems aan die eiland bekyk. Hier sien ons ook die wyfie houtkappertjie wat bedreig is. Die mannetjies is rooi en swart. Die houtkappertjies gebruik stokkies om larwes mee dood te steek, en eet hulle dan. 

 

Terug na ons taxi, dorp toe om aandete te kry. Ek maak aartappels, eiland styl! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *