Playa Brava en Mansa

Playa Brava is nie aanbeveel vir swem nie en hier word mens gewaarsku teen gevaarlike strome. Playa Mansa is die snorkel en swemstrand. Om hier te kom is die beste maar te voet. Die laaste 2.5km tot by die playa is fietse nie toelaatbaar nie. Ons stap dus die 4km tot by die strand sommer van die begin af. Ek het wortels gesny vir ‘n snack, en ons het gedroogde piesangs. Verder is ons water vol, sonblok in die sakke en ons vat die pad. 

‘n Woord van advies!! Dra sonskerm! Jong, die son vat vir jou vas, hy maak jou staan maak nie saak waar jy wil wegkruip nie! Ons registreer by die ingang en stap die walkway. Galapagos is op vulkane, weens vulkane. Hier is die hoof boumateriaal dus vulkaniese klip. Dit word netjies met lasar gesny in stene, plaveiselstene, cladding. Die paadjie is mooi gebou, en geplavei. Die plante is mooi groen. Daar is ‘n teken langs ‘n giftige vrugteboom en jy word gevra om maar weg te bly van die boom en sy jeuk reaksie op die vel. Soos ons stap is daar hier en daar ‘n akkedis van verskeie kleure. Ons sien baie voëls, elkeen anders as wat ons aan gewoond is. 

Soos ons die knikkie oorkom lê Playa Brava voor ons. Mooi was nog nooit lelik nie. Die kinders in ekstase. Lenka se reaksie:”Jô, dis mooi!” En dit is. 

Wat vir my nog mooier is, is die ou oom wat ook evolusie ondergaan en sommer net besluit het vandag speel hy in die sand. Ek sou wat wou gee om te weet wat hy vandag dink en besluit het oor die lewe wat hy sover geleef het. Hy sit daar en speel soos Lonesome George…op sy eie. 

Die is die gevaarlike baai. Dit sal in enige ander plek die perfekte strand wees vir swem, as daar lewensredders is. Maar hier is niks. Ons stap langs die mooi strand met sy sagte fyn wit sand tot by die rotse waar die iguanas bly. Daar is parkeraad mense orals te sien wat maar die toeriste moet dophou. Dit maak Afrika maklik. As die donders wil uitklim en die leeus voer, wel vreet hulle dan op. Hier is dit moeiliker. 

Om die draai is daar skaduplek gemaak vir die toeriste onder die bome. Jy sit maar ‘n entjie weg, ingeval jy jeuk. Links is mangroves, en dan die lange baai, die in die land in. Nie ‘n brander in sig nie. In die warm vlakwater is daar enkele vissies te sien, maar niks besonders nie. Dieper is daar nog minder vissies. 

Die kinders swem-loop so draai en dan is die verveeltheid groot. Lenka word gevra vir foto’s saam die donker Spanjaarde en Janko word weereens deur die ou tannies opgechat. Wat ‘n lewe. Hy sit en grou in die sand. Die wit bosand word vinnig grys, en hy grou ‘n versteende tonneltjie uit. Ons sal moet kyk wat dit is. 

Ons stap terug, net om die groot Iguanas in die see te sien swem. Ons gaan ‘n draai langs die rotse op Playa Brava swem. Hier is honderde klein tropiese vissies. Die pelikane sit rustig op die branders langs jou en gee net ‘n vlerklig as die brander liggies voor hom breek. So vreedsaam jy kan nie glo nie. Die pelikane sweef reg bo jou verby, soveel so dat jy half moet koes. Soos ek uitstap, swem die Iguana verby, geen vrees vir my nie. So teen die wit sand en blou water is dit net mooi. 

 

Die kinders speel in die vlak branders. Hulle speel in sand, brand in die son en neem die mooi eiland atmosfeer in. Ons stap terug in die hittige son. Teen 16:00 is ons by ons huisie, die kinders swem en ek maak iets om te eet. Abré het gaan inkopies doen. Nou bekyk ons wat ons môre kan doen en lees bietjie meer oor Galapagos. 

Ons lees oor Lonesome George wat so alleen in die dorpie staan as nadenke oor wat uitwissing van habitat aan diere doen. 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *