Lima – Chosica

Vanoggend ry ons taxi, weer taxi, en dan weer taxi na Chosica. Ons gaan na Yinna se ouers se huis, so 50km uit Lima. Ons is vroeg reg en kry ons eerste Taxi tot by Yinna. Hier klim ons oor en ry tot in die dorpie, Chosica. In die dorpie moet ons nog so ent buite kom, so ons vat ‘n stasiewa taxi waar ons almal sommer in sardiens om daar te kom. 

Die huis is langs die rivier, en die klimaat heel jaar marig. Dit reën nooit. In die winter is daar ‘n klein bietjie minder mis oor die berge, maar dit is maar steeds bietjie grim. Die berge is kaal, net klip en stof. Lima is ‘n droeë plek…laat my dink aan die strate van El Bolson. Tog is die water net elders weggesteek. Daar is ‘n groen vallei waar die mense bly en gewasse plant. ‘n Bestaan is dus moontlik, jy moet net nie vir die reën wag nie! 

Die tuin is tropies. Dis papaya bome, guava’s, maracuya’s en in die verte piesangs. Dis warm. Op die teras hoër op is daar ‘n briesie en is dit heerlik koel. Die volgende terras teen die berg op is koud…seker hoekom die swembad leeg is! 

Die vrouens maak die kos. Dis aartappels wat gekook word, sommer ‘n groot pot vol, vars slaai blare en forel. Die rivier is vol vis, die oom het self gevang en die tannie gaan alles self voorberei en op die vuur braai. Yinna se sussies is daar en hulle kinders. Dis ‘n hele spul mense vir die dag. Liu praat goed Engels so sy word nou en dan ingeroep vir vertaling. 

Die kuier is heerlik, die vis smaaklik en die geselskap soms baie vermaaklik! Janko leer ‘n top behoorlik spin, en nou het hy iets om te oefen, totdat hy die video kan neem en terugstuur van hoe hy dit regkry. Spaans, Engels what ever jy ingooi werk vir kommunikasie op ‘n dag soos vandag. Ons stap tot by die rivier waar die kinders so bietjie speel. Die water begin hoër word, en Yinna sê hulle maak elke dag die sluise hoër op oop, daar is glo ‘n dam. 

Dis al redelik laat toe ons die pad terug aanpak. Ons vat ‘n taxi tot in die dorpie en daar loop ons om ‘n bussie te kry wat tot in Lima sal gaan, waar ons wil wees. Ons is so 20:00 in Lima. Die baie verkeer, honderde bussies vol mense. Almal oppad iewers heen. 

Môre is stemdag. In Peru moet jy stem, anders kry jy ‘n boete. In die verlede was daar geen belangstelling in politiek nie en het daar ook nie veel gebeur nie. Nou is daar darm verkiesings wat sin maak en partye waarvoor mens kan stem. Daar is twee wat tans gewild is, maar soos Yinna sê stem die wat geleertheid het vir PPK en die massas vir Keiko. As sy wen voorspel hulle probleme, want sy sal seker haar korrupte pa uit die tronk sleep en wie weet wat dan gaan gebeur. Dis maar alles spekulasie, maar ek sal nogal wil weet wie wen! Ek sal maar tot môre 24:00 in Peru moet wees! 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *