Ons groet Cusco

Katedrale sal nooit weer dieselfde wees nie, nie na Cusco nie. Hier is die katedraal meer as net ‘n katedraal. Dis drie afdelings. Die katedraal, Catedral de Santo Domingo, die kerk van die sacret family of Iglesia de Jesus Maria en dan nog die kerk, Iglesia el Trionfo. Die ou Inca tempel is afgebreek…jip,deur die Spanjaarde en die Roomskatolieke kerk is gebou. Nadat dit vele kere deur aardbewingss plat geslaan is, is die kloktoring nie weer gebou nie. 

So stap ons tussen honderde skilderye, met 18ct. rame, silver pilare van honderde kilogramme. Met die feesvieringe is daar tans 14 Saints wat die kerk volstaan. Elkeen meer glamour en bling as die vorige ene. Dis silverskoene en die fynste handwerk denkbaar. Die kerk is met blomme versier, elke saint sy eie kleur. Die kinders kry audio gids by die deur en luister na die sowat 24 stasies van inligting. Ek en Abré suig vandag aan die agterspeen en lees alles. Dis grafkelders binne die kerk, maar geen kerse word hier gebrand nie. Dit maak die dakke swart. Al wat swart is, is Christ Negro, die hout is glo deur kerse verswart en na jare is besluit om die beeld uit te sonder as die ene wat die dorp teen aardbewings moet beskerm. So het elke beeld en elke saint ‘n ander storie. 

Ons stap nog so draai deur die dorpie. Besoek die Inca museum, wat verseker die moeite werd was. Die keramiek net waar jy kyk. Ons kyk ook na ‘n baie oulike demonstrasie van klei fluite. Daar is voëls, om presies te wees die suikerbekkie paartjie, dan ‘n houtkapper en daar is pappegaaie en honde wat tjank. Die baie oulik gedoen en sommer baie interessant! Ons leer van die Inca Prinses wat met ‘n Spaanse kolonel getroud is en hulle seun het ‘n boek geskryf oor hoe slim die Incas was. Ons sien hoe die mense die Spaanse gebruike aangeneem het en dat die Incas nie net verdwyn het nie, maar net oorgegee het en vervuil is deur die Spanjaarde, soos dit maar orals gegaan het met kolonialisme. Ons sien werktuie, lees info, en moet weereens die mummies trotseer… Van hier gaan ons na die kunsmuseum, met die mooi hout rame om die kunswerk, ou klaviere en mooi tuin. Dis al wat jy mag afneem. Onder is nog ‘n Inca boublok, die steen het 12 hoeke! 

Ons gaan eet heerlike Peru Alpaca, elkeen ‘n ander dis by ‘n klein restaurantjie. Janko eet Alpaca met quinoa in Coca sous, dis nogal lekker, nou gaan hy positief vir kokaiene toets! Lenka eet net ‘n Alpaca pasta, Abre ‘n steak en ek Fillet met sampioen sous en papas. Hier maak hulle die Alpaca vleis baie sout, vreeslik sout, met heeltemal te veel sout. So met die sousie by is dit heerlik! 

Nou is dit haastig terug en die bus haal na Nasca. Ons het relatiewe goedkoop kaartjie gekry, die bus is op promosie. Dis ‘n nuwe bus met cama bo en onder. Die kinders is mal oor die blou ligte in die bus, dis luuks, dalk slaap iemamd vanaand beter! Ons kry op ‘n stadium ‘n koeldrank en koekies, Abré het broodjies en avo gekoop so ek het toebroodjies gemaak wat ons nou eet. Slaaptyd! Môre is ons 6:00 in Nasca! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *