Machu Picchu

Machu Picchu, die klim van Machu Picchu berg, straf maar die uitsig ongelooflik. Begin vroeg. Ons maak dit in ‘n uur op. Sien die son deur die mistigheid kom en hou die miswolke oor Machu Picchu dop, en dan sien jy die stad daar doer onder…

Die paadjie op is styl, baie styl. Af, nog erger. Dis mooi klip gepak, maar soms reguit op, nou en straf! Heerlik! 

Bo op die berg is dit absoluut die moeite werd. Die panorama pragtig, die mistigheid oor Salkanty wil-wil weggaan. Dis die volgende groot trek, Salkanty. Klaar besluit, hom wil ons doen. 

Soos jy afkyk oor Machu Picchu sien jy die begin van die Amazone. Jy kry ‘n idee van hoe die skattejagters hier rondgeswaal het langs die rivier opsoek na die Inca skatte, soos in baie legenses geskrywe staan. As ek so vir die bosse om Machu Picchu kyk kan ek dink hoe die plek toegegroei moes wees. Dis tropies, altyd mistig, altyd vog. Groen. 

Ons spandeer soveel tyd moontlik bo. Ons was so 8:15 hier en moet weer 11:00 onder wees vir ons gids. Ons stap stadig en versigtig af, gaan badkamer toe, kry water en sonblok en dan kry ons die gids. Dis tyd vir ons twee ure van info oor die dorpie. 

Ons leer van die geskiedenis van die Incas en Spanjaarde. Die rede hoekom Machu Picchu verlate is, hoekom alles net so laat staan is en die mense getrek het, dalk die Amazone in. Ons leer van die ontdekking, deur die 11 jarige seuntjie Pablito, wat hier gespeel het en die Wetenskaplike ontdekking deur Hiram Bingham in 1911. 

So sien ons die ruines, die sontempel, die spieëls, die grafkelders, die terasse en nog terasse en nog so paar. Die 450m afgronde veilig deur klip ure beskerm. Die Condor uit klip, en die kamer met 3 vensters vir 21 Junie en 22 Desember se son. Die muur om die stad, die Poort as hoof ingang. Die waterstelsel die hele stad vol en hoe die dreinering werk. Die koning se kamers, sy stort en ander oulike feite. Alles mooi, interessant en weereens te veel om in een dag in te neem. 

Ons kry ‘n Machupicchu merk in ons paspoorte. Ons vat die bus af, senuwees van staal. Ons trein vertrek 19:00 terug na die stasie in Ollantaytambo. Hier kry die reisagent ons weer en laai ons af by die plaza, na sowat 2 ure se ry tot in Cusco. Dis laat, ons is moeg geklim en stap. Ons stort en teen 24:00 is almal in die bed! 

Machu Picchu is verseker die moeite werd gewees! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *