Salar Uyuni – Laaste dag!

Ons is vroeg op en uit. Dis so 15km uit en dan is ons op die sout. Hier teken jy in, en weer uit. Seker om te kyk wie verlore raak op die sout. Ons ry tot op die eiland in die sout. Abré koop kaartjies en ons is oppad met die piek op om die sonsopkoms te sien. Ek is skoon uitasem toe ek bo kom, ek het al my fiksheid verloor…that’s bad…

Die son kom op oor die berge oor Uyuni se kant. 

Die koppie is vol mense, maar mooier nog as die sonsopkoms vir my is die korale op die eiland. Hierdie was miljoene jare terug ‘n koraalrif, en die soutwater was oor die. Die water het verdamp, die diere het gevrek en al wat oorgebly het hier in die pan was die hoogste piek onder die see oortrek met koraal, vol grotte en yslike formasies. Dis regtig iets besonders. Vandag is die koraalpiek op Isla de Piscina vol Cardones, en kyk hy uit oor presies dieselfde sout wat miljoene jare terug lewe gegee het aan die aarde om hom. Dis darm baie oulik! 

Die sout is so 30sm diep, mooi skoon. Dan is dit vuil, daar is baie plekke water, en onder dit weer sout, en dan ‘n modderlaag. In totaal is dit 130m diep en die pan beslaan 100x100km. Hier kan jy verseker verdwaal! Sou dit gebeur kom soek hulle jou met ‘n helikopter. Baie plekke is die sout nat, en dis dan hier waar toeriste wat op hul eie die plekkie wil bekyk soms vasval. 

Ons eet ontbyt en neem foto’s saam die llamalammetjie wat rondloop en geld vra vir melk. Sy is vreeslik hans! Ontbyt is graankos met yoghurt, en dan het die tannies by die sout Hotel vir ons koek gebak. Dit word met Dulce de Leche geëet. Koffie en kns kry die geleentheid om te stap, terwyl Ronald en sy pa oppak. Ons stap ver en neem foto’s die sout is darm ver en wit. Twee spore loop tot doer waar die voertuie almal ry. 

Ons ry tot ‘n hele ent in die pan in. Ronald stop en hier kan ons foto’s neem. Plek plek is daar gate in die sout, waar daar skaars 15cm dieper water is. Janko duik sout kristalle uit, perfekte kubusse. Dis regtig oulik hoe die natuur en wetenskap werk. Tog ry die voertuie oor die gate, sonder dat hulle insak of breek. Ons neem hordes foto’s maar dis nog te min vir wat ons alles wil doen. Met min ervaring in die tipe fotos kry ons darm ‘n paar wat ons kan gebruik. 

 

Nou stop ons by die eerste sout hotel wat ooit gebou is. Hier koop ek ander sweeties om weer ouma se naam te skryf. ‘n Ent verder is ‘n Dakar beeld opgerig wat sekerlik baie mense trek. Ons beweeg aan na ‘n mark net buite die pan waar ons ook middagete gaan geniet. 

 

Lenka is regtig siekerig. Sy kla haar maag is seer en nou is daar nog meer komplikasies. Ons eet, sy eet amper niks. Nou ry ons uit na Uyuni vir ons laaste stop by die trein begrafplaas. Hier neem ons fotos, en kry geleentheid om die toer te evalueer en kommentaar te lewer. 

Uyuni is derdewêreld. Die plek is besaai met plastieksakke. Dis stof en vuil. Ai tog. Die dorpie is agterlik, die strate is vol stof en rommel. Hier is darm een voordeel, die wat kan geld maak doen dit! 

Ons word na alles by die bus terminaal afgelaai. In Uyuni is die sommer iemand wat in die straat loop en roep Potosi, en as jy vra wanneer hulle vertrek kry jy die tye daar. Daar is nie spesiale kantore en advertensie nie. Alles gebeur soos dit geberu.  Ons stap agter ‘n vrou aan, Potosie ahora… word ingesleep om ‘n kaartjie of vier te koop. Ons word in die rigting van ‘n bus gevat en daar is ons bus. Ons is skaars afgelaai of ons klim op ‘n bus Potosi toe. Die stad lyk baie groter as Uyuni so ons het besluit om dadelik aan te ry en eerder daar te gaan slaapplek soek. 

Die pad Potosi toe is mooi. Bolivia is berge en hier begin die al groener word. Soms net rotse en canyons aan die kante en ander plekke groen bossieveld met sandduine. Ons kry ‘n vallei waar daar letterlik honderde Alpacas loop. Hier loop bulle tot op die paaie rond en nou en dan hoot die bestuurder vir hulle. 

Die pad kronkel teen die berge uit. Lenka voel regtig sleg. Ek kan nie dink waarvan nie, ons het almal dieselfde geëet… Ek dink dis dalk die aan alles vat en nie altyd weet waar jy hande was nie. Ek sal hieraan moet aandag gee, veral nou in Bolivia en Peru. Sy hou uit tot in Potosi en ek en sy soek heel eerste die badkamer by die terminaal. Sy’s regtig niks lekker nie. Toe ons klaar is, ry ons met ‘n taxi plaza toe. Die baie mooi en die hele wêreld is vol skoolkinders. Almal sit rond, kuier of is oppad iewers heen. Abré kry blyplek so blok weg en ons is oppad. Vanaand slaap ons in ‘n Hostel, eie kamer, groot vierkant, kobuis en eetkamer. Wifi..weet nie hoe goed niemaar daar is. Lenka stort en is weer naar. Nou kan sy gaan stort en dan gee ek vir haar iets anders. 

Abré gaan koop so paar goedjies en ek kry die kinders skoon en effe beter voel. Lenka slaap. Ek en Janko sit op die bed met ons Ipads en doen wat ons doen. 

Tot môre! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *