Bolivia, hier kom ons!

Bolivia was nie op ons oorspronklike plan nie. Ons sou Chile doen en die Nasionale park heel noord, die hoogste park. My vriendin Marindi het egter 20jaar terug hier rond getoer en gesê sy het Bolivia baie geniet. Ons het planne verander, Chile verlaat, terug Argentina toe gegaan na Salta en nou gaan ons Noord, na Bolivia en sal dan eers by Titicaca oorgaan na Peru. 

Die internet was effe beter as by Purmamarca, so Abré kry darm gelees oor Bolivia, kyk na toergroepe, beskikbare toere en akkomodasie. Ons gaan nie Bolivia op ons eie doen nie. Ons sal so dag vat om rond te kyk en dan ‘n toer doen vir 4 dae en 3 nagte. So dit sal seker so week in totaal in Bolivia wees. 

Vanoggend is ontbyt vroeg, ons gesels met ‘n Franse familie wat met fietse vir 8 maande toer. Hulle het in Puerta Montt begin en gaan op tot in Peru. Hulle ry gemiddelds 70km per dag op plat areas, en 40 as dit ‘n styl roete is. Die kinders is 10 en 12, soos ons sinne, en dan ‘n heel klei tjie seker so 4 wat voor op haar pa se fiets sit met haar eie trap. Hulle kamp glo baie – seker soos ons as dit duur is of die volgende dorp is te ver, maar hulle lyk nie te verslete nie. 

Ons moet wikkel, net om by die busterminaal vir die bus te wag. Uiteindelik, en Lenka en Janko besluit sommer vroeg vroeg om onder te gaan sit want die gewieg bo maak Lenka naar. Abré speel wordbrain op sy ipad en ek haal blog in. 

Die berge word minder soos ons Noord ry, verander in heuwels met gras maar steeds lyne oral te siene. Beeste in die vlaktes en die berge en ordentlike groen bossies. 

Die rit is vinnig oor. Ons stop in Quiaca en nou moet ons oorstap na die Bolivia grens toe. Ons stap by ‘n eetplekkie in en bestel middagete, net voor ons Bolivia tref moet ons ons Argentynse geld uitgee. Ons koop pizza, met eier, olywe, kaas en ham. Die keuse op die menu was ham. Die ander ene is anchovis, dit kom met tamatie, eier, olywe, ham, kaas en die anchovis. Ai, die mense darm. Die dorpie is arm. Ons merk op dat die vrouens hier baie meer run down is. Seker maar al die kinders wat hulle borsvoed tot op 4 jaar. Die mans lyk baie beter, en die tande lyk ook beter. 

Ons stap oor na die grenspos. Verassing!! Ons benodig visas. So, nou het ons nie visas nie en ook nie Bolivianos nie. Abré reël dat ons hier bly staan en dan stap hy na die naaste ATM. Dis so ewe reg. Ek vul al die vorms in en Abré loop onwettig in Bolivia rond. 

Ons stap oor na al die papierwerk. Die visums kos ons $2532, maal dit met twee dan het jy rande. Ons stap die bult op na die busterminaal. Die strate is vol winkels, mense doen besigheid en anders as in Argentina is alles oop. Daar is vrugtepons die wêreld vol, party houers is heel vrugte wat ek nie ken nie…ek sal moet foto’s neem. 

Die klere is westers in die winkels, maar baie van die ou tannies dra die ingeplooide wye pof rompe en breërand hoede. Hulle maak hul besittings in ‘n helderkleurige doek vas, en gooi dit dan om die skouers. Daar gaat hulle, die hele lot. Hulle dra swaar, hulle loop krom en gebruik enige ding vir ‘n kierie. 

Soos ons deur Villazon ry lyk dit sommer tonne beter as Argentina in die noorde. Huise is dubbel verdiepings, daar is kragdrade wat behoorlik aangelê is. Die bouwerk lyk beter, die mense se tande is nie so vrot nie, en mooi met goud afgewerk. Wat laat julle dink tande is belangrik? 

Soos ons die dorp uitry kry jy Adobe huise, sand, grond en die droogte. Ons bus is mooi, heel en netjies, beter as die ene waarmee ons tot op die grens gery het. Nou wag ek maar en kyk wat die pad oplewer. 

Landbou bedrywighede is groottes as wat ons al gesien het. Daar is heel party boere langs die riviere. Ons kom in Tupiza aan, en ons is verstom oor alles. Ons koop vrugtesap op die busterminaal, dit kos $1. Jy drink dit of in die glas of jy kry dit in ‘n sakkie met ‘n strootjie. Baie kreatief. Abré gaan soek blyplek en bekyk toere en ek en die kinders wag. Hy kry plek in ‘n groot hostel, Hermosa, en bespreek ‘n 4 dag toer met Tupiza tours. Ons ry môre. 

Ons kry ‘n lys van goed wat ons moet koop, dit sluit water, toiletpapier en snacks in. Ons kry so paar goedkies, soek sonbrille, maar dis so swak kwaliteit ons koop maar iets wat kan werk, en darm nie ons oë sal opvoeter nie. 

Vanaand eet ons braaivleis. Ons klop aan by ‘n restaurant waar deur die toeragentskap aan eveel word. Ons eet vrek baie, lekker en hopeloos te veel! 

 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *