Reserva Natural Quebrada de las Conchas

Cafayate is ‘n plek waar mens tuis kan voel. Almal ry fiets, oud en jonk, bromponies is vol ouma’s en jonges. Fietse deur oupa’s en ma’s met kinders. Jy maak jou fiets staan op die sypaadjie se trap en dis daar waar hy bly staan tot jy hom weer nodig kry. Wat ons opmerk is dat hier vreeslik baie ou motors is, die hele Argentina en Chile vol. Dit moet hulle ‘n fortuin kos om met die voertuie te ry…maar dis seker goedkoper as ‘n nuwe voertuig, petrol is R17per liter.

Die dorpieis plat. Baie winkeltjies en eetplekke met tafels op die stoepe, binne raak dit net te warm.  Die dorpies is net mooi om die plaza, waar huisies en winkels mooi kleurvol is. Dis letterlik twee strate. Die res van die dorpie is stof en gebou soos die geld beskikbaar is. Ek neem maar die mooi dele af…. Ons vra by ‘n kafé vir ontbyt en die meisie vra, tee, koffie of mate? Ons bestel tee en koffie, nou wag ons maar om te sien wat ontbyt is. Dis ‘n mandjie met broodbolletjies, uit skilferdeeg, botter en konfyt. Twee messe en geen borde. Wat is dan jou probleem hier eet jy op die tafel, soos al die ander mense. Nou ja, dan is ontbyt café, té y pan.

Soos altyd stap ek na die kerk toe en kyk hoe dit lyk. Hier moedig ek maar vir Janko aan om na te dink oor al sy stoutighede… Die kerk staan op die plaza, wat ook algemeen is in die dorpies.

Ons besoek ‘n bodega net buite die dorp. Mooi, netjies soos alle wynplase van gehalte. Ons leer so paar feite oor hoekom die klimaat die wyn so goed pas. Dit is op ‘n hoogte van 1700m en kry maar 200mm reën per jaar. Die druiwe se besproeiing word dus goed gereguleer. Hier word wit en rooi druiwe geplant, en ons leer alles van die koue nagte en die sonnige dae. Die streek het 340 sonskyn dae per jaar, wat ook bydrae tot goeie rooiwyne. Ons toer, kyk en leer. Janko het sy standaard 400 vrae  wat niemand nog ooit aan gedink het nie en Lenka gaan nou wyn begin maak. Die keer met die eier vaatjie uit sement, wat organies is alles sommer self doen. Maklik. Wyn is so goed dit gaan die jaar gebottel en verkoop word. Hulle produseer maar 4 miljoen bottels wyn per jaar, ‘n medium kelder.

Ons ry uit Cafayate deur nog wyn wêreld en kry die mees asemrowendste views ooit. Abré kry sy deel van die berge waarvan hy so baie hou, die hoogtes en die view beyond. Ons stop by ‘n paar uitkykpunte op die Quebrada de Cafayate. Die eerste is Las Ventanas, (die vensters), so mooi deur die wind in die sandsteen uitgekalf. Verder is die valleie en dan El Obelisco. Die weereens net iets uit ‘n ander wêreld. Waar die kleure en die teksture vandaankom sal niemand weet nie. Die berge is hope sand en klip en niks kan daarmee gedoen word nie. Die vallei is groen en vrugbaar. In die verte is die Kaapse berge, klip en gras met ‘n wolke kombers oortrek. Hulle pas sommer nie in nie, maar so noodsaaklik as jy die Salta Routa de Vino doen en jy kom van Suid-Afrika af.

Ons stop by die keël van die duiwel, Garganta del Diablo, wat Abré en die kinders uitklim. Dis yskoud buite, maar dis die aktiwiteite wat dit vir die kinders lekker maak, so iemand moet maar inspring en dit doen…die keer die ou wat van hoogtes en views hou! Hulle geniet dit, doen die foto ding en ons is weer oppad. Orals sien mens stalletjies van artesenal, juwele, kaas, konfyte, wyne en wat nog.

Ons ry aan, en ek sê vir Abré die lyk nou weer soos bosveld, met die lae boompies en deurmekaargeite. Net ‘n ent aan is dit natuurlik tropies. Ons kry middagete, dit is darm al na 14:00, by ‘n boerbok bokmelk kaas plaas. Ons eet heerlik, Abré sy kaasbord, die kinders broodjies en ek soos altyd sop.

Hierdie foto is nou vir Cynthia, daar in Swellendam. Maak maar die koffiehuis oop, maak bokmelk kaas, met konfyte en artesenal bier en wyn. Koeke en Tortas, wat minder kalorië bevat en soms nie eers 1cm dik is nie. Tuisgemaak, uit die kombuis. Onthou om jou cheff hoed te dra! Versier met antieke stoele wat met harde ongebreide leer velle oorgetrek is, (geen ander ondersteuning as basis nie) en moenie die ware bokke buite vir die kinders vergeet nie. Die dekor is local, foto’s en trofee, hout maak alles warm en dis sommer eenvoudig en maklik ook. In baie van die woestyn dorpies is die plafonne en houtwerk van kaktus hout gemaak, ek lovit!

Ons is oppad, die keer in die koue en reën. Die warm droeë woestyn is agter ons, nou is dit reën en vaal grou lug. Vanaand moet ons die kar teruggee, môre se reis en akkomodasie beplan en dan is ons amper oppad Bolivia toe! Teen 20:00 besluit ons om die stad te verken en besoek die kosmark vir aandete. Janko wil graag mieliebrood eet, wat orals te kope is. Hier is twee soorte, ene het beesvleis in, die wange van die bees gemeng in die mielies. Die ander ene net mieliepap. Humita en tamale. Ek sal maar respete moet gaan google! Gestoom binne die mielieblare wat mooi toegeknoop is.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *