Circuitos Religioso en MAAM Mummies

Ons stap die stad se strate in en begin die roete op die toeriste kaart stap. Sommer op die hoek van ons woonstel kry ons die Iglesia de la Candelaria La Viña. Die hekke is ongelukkig toe, maar dis so naby ons sal seker weer hier verbyloop. Dis moeilik om die groot geboue af te neem, veral met besige strate, kragdrade wat orals hang en dan nog ander monsters wat hulle insluk van die kante af. 

 

Ons loop deur die promonade waat daar markte is, sommer alles wat jy aan kan dink, maar baie gekomersialiseerd. Die klere, kos, kouse, sakke, denims…tipies Suid-Afrikaanse straat stalletjies. Hier en daar iets handgemaak. Agter dit die rye en rye winkeldeure wat toe is, die tyd van die dag. Ander is oop, hulle het ‘n saak met daglig en tydzones, hulle bly sommer heeltyd oop. 

Ons kom op die plein, die Plaza 9 de Julio. Nou kyk. Elke dorp het strate van al die belangrike gesiedkundige datums van die land. In elke dorp ‘n 21 Febrero, 9 de Julio en so gaan dot aan. Hoe maklik moet dit nie wees om jou geskiedenis so te onthou nie! 9 Julie 1816 is die dag waarop Argentina onafhanklik verklaar is. Onthou dit nou! Die plaza het ‘n fontein waaruit mens yskoue water kan drink. Daar is water spuitfonteine en standbeelde. Baie bankies en ‘n afdak, ‘n ronde ene, wat noem mens dit, vir geleenthede, soos tee, komserte of wat ookal jy kreatief mee kan wees. Die koffiehuise en Casa de té het almal stoepe waarop mens uitkyk op die plaza. Dis net hier waar ons die kinders se koekdag later gaan hê. 

 

Ons stap deur die promonade neem ‘n paar foto’s van die geboue op die plaza. Plazoleta IV Siglos is hier, ‘n regte Spaanse gebou, mooi standbeeld ter herdenking van die stigting van Salta in 1582. Aan die anderkant ‘n beeld Gustavo “Cuchi” Leguizamón, advokaat,musikant en komponis.

By die supermark koop ons kos vir vanaand en môre. Abré stap terug en vat die inkopies huistoe en ek vat die kinders vir hul weeklikse Koekdag op Plaza de 9 Julio. 

 

Ons loop eerstens by die Santuario al Señor y Virgen del Milagro Catedral Basilica in wat weereens groot, wel massief is. Detail soos altyd en weereens pragtig. As jy elke week in die kerk kom aanbid sal dit nooit te veel raak nie. Hier is soveel om te sien en om oor verstom te wees, jy kan net wonder hoe God mense geskep het wat dit kon bou, skilder, ontwerp en onderhou. Jy sien Sy grootheid in die mense se handewerk. 

 

Die mosaiek buite die kerk is klein, maar die detail besonders. Dit laat my dink aan my vriendin Brenda, en ek wonder of sy die kuns so sal kan vervolmaak. Nog ‘n wonder. 

Ons trek laat weg en besoek die Museum of High Altitude Archaeology (MAAM). Geen foto’s asb…Hier kyk ons na die 3 kinders mummies wat gevind is in 1991 en bewaar word in die museum in Salta. Die geskiedenis is ryk en die detail, detail. Dis weefstof, geometriese patrone, stamme met hul eie gebruike wat juis daardeur geidentifiseer kan word, soos weef, skulpe, vere, koper werk. Alles dra by tot die identifikasie van die mummies se oorsprong en geskiedenis van die Incas. 

Kiekies uit die brosjure. 

Vulkaan, of berg Llullaillaco huisves een van die mees heiligste en belangrikste feeste van die Incas, die Copacocha. Die doel van die rituele was om hul waardevolste besittings te offer met die hoop of geloof dat hulle in gelyke waarde deur die gode terug vergoed sou word. Bietjie anders as wat die Christen geloof is… Sou daar veranderinge wees in politieke gebeure, dan sou die ‘n geleentheid wees vir so ritueel. En dis waar die kinders uit die koninklike huise geoffer is. Die mooiste, perfekte kind is gekies. Hulle is geoffer, eers moes hulle hul pad huistoe vind deur die berge, en as hulle dit oorleef is hulle wel kortweg dronk gemaak en dan na die berge geneem om geoffer te word. Hulle is begrawe, dalk lewend dalk nie, hul kopbene is misvormd, wat ‘n aanduiding is van koninklike status. Saam in die graf was waardevolle besittings en items wat gebruik is in huweliks seromonies. Hier sien jy watter twee gemeenskappe ‘n nuwe eenheid gevorm het. 

Daar is drie kinder mummies. The Lightning Girl, haar liggaam is jare na haar dood deur weerlig getref. Die seuntjie (wat op uitstalling was toe ons die museum besoek het. Vreeslik klein, regtig baie klein vir ses, hy was seker so hooh soos my voorarm en hand lengte. Dan die maagd, sy was so 15. Hulle is almal op 6700m gevind, en word hier in koue en perfekte toestand bewaar. Alle items in geseël en temperatuur en suurvlakke word gemeet binne die kaste. Die koue van die berge het die kinders vir jare bewaar. Die skuif het groot oproer in die tradisionele gemeenskappe veroorsaak, maar hulle moes geskuif word, want na ontdekking is daar mos verhewe mense wat hulle sal wil hê vir selfwaan. 

So is die Indiese meisie Queen of the Hill, se mummie liggaam 82 jaar na sy van ‘n argeologiese area op die Chuscha Berg gesteel is teruggevind en sy is aan die museum geskenk. Terug in die land waar sy hoort! Sy is verweer, gestroop van haar identiteit, kultuur, status en weelde. Naak met net ‘n wit doek van onskuld wat nou oor haar getrek is en vasgepin is. Dis tragies dat die geskiedenis so verlore gaan deur dwase hande, leë koppe en oningeligte mense. ‘n Bietjie kennis gaan ver! 

Die kinders word bewaar in -20gradeC in kapsules met min suurstof, so oksidsie en verwering word beperk. Die wetenskap agter die bewaring is ‘n museum op sy eie. Dit trek Janko aan, en die detail vir Lenka. So kry elkeen bevrediging. 

En ek kry my grafsteen. Die dag as ek die tydelike met die ewige wissel, pak vir my ‘n klipstapel, of ‘n Apacheta. Bring ‘n klip uit jou tuin, as aanduiding van die transisie, die nuwe journey wat voorlê. Dit dui die einde van een aspek, in die geval lewe, en die begin van ‘n nuwe aan. Dit dui ook grense aan. In die geval onbeperk. Apacheta uit jou tuin, asseblief. ‘n Persoonlike item van jou na my. 

Dis al donker toe ons by Iglesia San Francisco ingaan. Baie mooi is die sement gordyn wat by die ingang hang. Die museu agter die kerk is reeds toe, en die toring onder restorasie. 

Oppad huistoe. Vanaand kook ek, ons het ‘n stoof! Hot dogs, (dalk letterlik) langs die pad! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *