Ruta del Desierto Atacama – Valle de la Luna

Ek en die kinders kom 8:30 in San Pedro de Atacama aan. Ek soek blyplek, koop kaarjies vir vanaand se Routa del Desierto – Valle de la Luna. Die naam, de la Luna is aan die vallei gegee omdat dit soos die oppervlakte van die maan gelyk het. Ons sal sien vanaand. Abré kom eers 11:30, so ons hang maar rond. Ons het blyplek gekry, wat ek altyd sal aanbeveel. Dome los Abuelos, met oulike dome huisies, swembad, net incase, ‘n kombuis area wat ordentlike ontbyt gee en ‘n baie goeie prys! Na ons ingeteken het, stap ons die strate van Atacama plat, dis net stof. Waar daar vanoggend niemand in die strate was nie, krioel die plek nou van toeriste. Sondag kry heel ‘n ander dimensie. Almal doen besigheid, toeriste is mos na-weke ook hier! 

 

Die dorpie het ‘n plein, hier is daar lekker koeltebome en winkels, ‘n hotel en restaurant of twee. Om dit is die stofstrate van die woestyn. Elke tweede winkel doen toere, so jy moet maar jou besluite neem en hoop vir die beste! Daar is meer as 50 toer operateurs in die dorp. Almal kompeteer, wys foto’s vir jou op ‘n groot skerm van wat jy te wagte kan wees. Dis nogal indrukwekkend! 

Dis 16:00 en ons maak reg vir ons toer na Valle de la Luna. Jy kan self die park ingaan en met motor of fiets die plek bekyk, maar ons vat eerder ‘n toer, want dis vrek warm hier, so fietse is uit. Motor huur gaan ook nie gebeur nie. Atacama is die droogste nie-polêre woestyn.  Verder is daar 4 soorte rotsformasies, of grondtipes. Daar is grond, klei, kristalle en minerale. Meeste van die grondtipes vind mens net in baie droë gebiede. Navorsing toon dat die Atacama droër word. Soos ek om my kyk voel dit nie soos woestyn nie, hier is dan lekker rotse en berge, maar droog en warm sal ek nie stry nie. Janko is skoon teleurgesteld, hy soek net sand! 

Die terrein is heel anders. Dis dinasorus gesteentes, driehoekige rotsformasies, alles uit “red rock”. Sommige plekke sien jy die wit sout neerslaan bo-op die sand. Ander plekke sien jy in die sediment die kalk en gips lae duidelik. Dis weereens anders mooi, divers! 

Ons eerste stop is “The 3 Mary’s”. Daar is egter net twee oor, een het omgeval toe ‘n toeris daar opgeklouter het. Die mensdom tog… Heel links is T-Rex, dan die verslane Mary, middel is Mary wat vir Jesus ophou na bo en heel regs kniel sy met die kind in haar hande. Ons sien baie van die voetspore van die “verhewe” mense. Die wat die klip uitklim by die “No Pasar” borde. Die wat oor die duin stap en hul voetspore los, duidelik waar jy glad nie mag gaan nie. Die wat hulle rommel los en verder stap, al is dit toiletpapier. Dan wonder ek hoe word hulle so verhewe groot. Is hulle van kleins af bo ander op mishope geplaas, seepkaste wat nog sal vrot, of hoe. Kan hulle hul nie aan gesag onderwerp nie, hetsy geskrewe op papier, ‘n bordjie, ‘n rooi tou of ‘n ry klippe wat vra bly weg of stap hier. Ek kan nie met die verhewe mense identifiseer nie. Hulle siele is vir my so droog soos die grond in die Atacama. 

 

Ons besoek tweede die duin. Mese het dit so geklim dat dit afgery is, so nou is die verbode vir loop, jy mag net kyk (behalwe as jy verhewe is). In 2011 was hier ‘n aardbewing en toe het die duin met 6m gesak. Ek moet sê, Namib vat nog die koek vir my. Ons loop op ‘n rots of bergkruin, die duin is afgesper, jy mag net kyk. Die uitsig van hier bo af oor die vallei is regtig besonders, sien die foto links bo. Middel onder is die kruin waarop ons stap, afgronde aan die kante so ek loop alweer en preek. 

Ons stap op en bekyk die woestyn in al sy glorie. Dis andes, rooi sand, rooi rots, bruin sand, wit sout neerslag, wit gips lae en alles in een mengelmoes gegooi. Dis fyn, hard, grof, gepunt, verweer, neergelê en afgewaai. Ver sien jy vulkane en weet iewers onder diep is daar lawa, korse deur aardbewings gevorm en so is die diversiteit weer weggesteek onder die aarde. 

Na die duin beweeg ons aan met die bussie na die sout grotte. Glo dit, hier gaan ons grot kruip en na sout kyk. Sout neerslag, sout kristalle en harde gesteentes waar die sout uitgewas word. Ander lyk soos klei wat netjies deur swaeltjies gevorm is om nessies te bou. Die neerslag is kliphard, soutkristalle oral te siene. Die grot is mooi oop, o ja so dink jy. Dit word later lekker nou, diep en donker. Ons is hande viervoet daar in en om draaie. Abré gebruik sy selfoon liggie om vir ons bietjie lig te gee. Soms is daar openinge na bo, soos die dak al uitgewas is. Ek hoop net die aarde staan stil tot ons almal weer uit is. Kyk na die tweede ry fotos onder, die klipharde soutkristal met Janko se rooi tekkie op, die sout neerslag op die vloer, die klei vormige oppervlakte met sout wat deurslaan, bo regs is dit kristalle. Onder is die grot, pikdonker met flitslig geneem. Man ek is bly ek is weer daar uit!!

Laaste is die mooiste. Ons stop vir die sonsondergang. Ek het nie woorde nie. Nes jy dink die son is weg, begin die prentjie eers. As jy wil omdraai en loop,is daar weer ‘n mooier skynsel. Dis groots. Hier is ‘n idee van die kleurespel. Dit word eers effe donker, dan speel die son deur die wolke, op die ooste horison. Wes sak hy dan, oos word rooi. As dit al amper pikdonker wil wees, kom die weste weer bloedrooi na vore. Ek dink mens moet maar beter foto’s gaan google, jy sal jouself egter ‘n guns doen as jy dit self kan inneem. 

Midde in die kleurespel moet jy tyd maak om dit alles in te neem, die omvang van dit te begryp, en jou brein geleentheid gee om net niks te dink nie! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *