Jorge Frey Bosque en Valle del Encanto

Ons kom 06:00 in la Serena aan. Serena beteken “evening dew”. Dis nog lekker donker, maar die bus terminaal spreek klaar van kuns en kultuur, met alles wat gemosaik is, badkamer, mure alles. Dis vroeg en alles is toe. Ons drink koffie en eet gou iets by die kafee by die busterminaal. 

Ons saal op en stap na ons hotel in die centro, dis net 2km weg en ons is tjop tjop daar. Ons kan egter eers 12:00 inteken, maar ons kan gelukkig ons sakke in die hotel los. Af in die strate van La Serena. Die Kerke is oud, die parke mooi en groot. Ons stap rustig deur ene wat vol replika beelde is, en ander is oorspronklikes. Snaaks dat daar rye en rye beelde hier is, ons wonder hoekom en wat die idee is. Daar is ook weereens rye en rye honde wat ons volg. Hulle is “pack” diere, so ons vorm ‘n mooi groepie om te volg. Die probleem is dat hulle jou soms volg in ‘n ander se gebied in en dan waai die hare soms so effe. Kan die mense nie dink die diere kan nie so tussen motor’s strate, parke, stukkende bottels en geen kos leef nie. Ek sou lankal hiervan werk gemaak het. Puerto Natales was die enigste dorpie waar daar effens probeer word om die diere van die strate af te kry, danksy een persoon se inisiatief! 

Ons loop sommer see se kant toe maar die son sak hier en ons sien net die pienk wolke oor die stad opkom. Dis lekker koel, die strande is nie almal geskik vir swem nie, en daar is baie borde vir strome so mens sal maar mooi moet lees. Die ou fort is ons uitkyk punt, hier gesels Janko nou net surf… Dalk het ‘n gogga hom gebyt. 

Ons stap terug in die straat waar ons pryse kry vir motors huur. Dis vrek duur, maar hier sal ons maar net moet, want ons wil ‘n paar dinge buite La Serena gaan doen. Abré gaan haal ‘n voertuig en ek en die kinders stap terug hotel toe. Dalk is ons gelukkig en kan so rukkie daar rondsit. Ons kamer is vroeg reg en ons kan afpak. Jipeeee!! Ek stort lekker, Lenka is regtig grieperig en Janko se oog lyk effe beter vandag. 

Ons ry uit na die bos in die woestyn. Teen die kus is Fray Jorge bosque, wat deel van die Parque Nacional is. Dis grondpad, maar die Toyota Yaris gedra haar goed, soos alle huurmotors! Die uitsig van bo op die berg is pragtig. Dis deinserig, maar jy sien rye en rye se berge agter mekaar staan, doodstil… Die wolke se skaduwees speel mooi saam om die prentjie nog mooier in te kleur. 

 

Ons doen die roete deur die bos en lees die inligting. Meeste inligting hier is ook in braille beskikbaar. Nou het ons weer baie vrae te antwoord oor braille, blindheid, visie, hoe die oog werk, kleure, vingers, tassintuig en hoekom blinde mense goeie fisio’s is. Dis woestynland, met die grasgroen, mos belaaide kusbos teen die hang. So ver soos jy kyk, geen groen, net kaktusse. 

Soos ons verder stap gesels ons oor neerslag, die see, die oseaan, plante en vog, diere in woestyne en so klets ons voort. Heelik, opelug skool. 

Ons ry verder na Vally del Encanto. Hier is petrogliewe om elke hoek en draai. Dis in 1964 ontdek en in 1973 as monument verklaar. Daar is ook verskeie maalklippe, wel maalgate in klippe te sien. Hier is maalgate gemaak gebeeld op die skerpioen konstellasie. Daar is petrogliewe van songode, die son, aliens – wat natuurlik hallusinasies is…of is dit? Ons kyk na sogenaamde Inca baddens in maalkolke wat deur watervalle gevorm was. Hier is dit nou net woestyn. Daar is ook tekeninge van watervalle of dalk slange en dan die mens daarmee saam. 

Die skerpioen konstelasie. Die duiwel se gesig links onder, met horings kompleet. Figure van mense, Janko by ‘n Inca bad en rotstekeninge, regs onder. 

Ons sien uiteindelik baie voëls. Mooi, kleurvol, swerms ook. Ons sien koenyne, die hele wêreld vol, en sommer lekker mak ook. Janko gewaar ‘n rot, maar ons word ingelig dat dit ‘n degu is. Die kry ons nie afgeneem nie. Dis weereens woestyn, maar hier is water en ‘n lekker groen oase. Die dat hier koenyne is! 

Ons neem kaktusse af, lewend, mensgemaak en natuurlik. Ons tel vrugte op, en ons gids wys ons hoe om die suur vrugte te eet. Almal kry ‘n beurt, net ek en Janko twee! Janko kry dit reg om in ‘n doring te trap, regdeur sy tekkie. Ai tog! 

Ons is maar bietjie olik, ek en die kinders. Die son sak soos ons terugry na La Serena. Hier sal mems kan bly. Die son oor die oseaan, hier kan jy nie foto’s neem nie, dit sal nie regverdig wees teenoor die landskap nie. Die son is rooiwarm, die wolke goud. Diemoseaan grys. Aan die kant is daar berge wat golwend is, regte Karoo of woestyn koppe en hulle kry ‘n pienk skynsel. Skaduwees van die wolke speel op die berge wat die golwende berge diepte en detail gee. Die wolke hier is ook anders, dis lae en lae en soos die pienk van die son oor die wolke reflekteer is dit pienk en grys sedimentêre lae in die wolke. Ek hou net aan met kyk en weet, die sien ek dalk nie weer nie, maar hopenlik eendag as ek die weer lees sal ek die prentjie kan onthou! 

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *