Die besluit

Jy het nou besluit. Jy het ook besluit dat aangesien jy als gelos het om by jou kinders te wees, die trippie nie anders sal wees nie. Dit was net soos dit sal wees.

Ek is twee keer my lewe weer gegee, een in 1988 toe ek op ‘n koue wintersaand saam my pa in ‘n bees vasgery op ‘n teerpad. My nek gebreek en 16 jaar later die tweede keer met die geboorte van my seuntjie Janko. 8 Punte bloed later, baie ure in ICU en oorplasings van een na ander hospitaal het ek met die kind in my arms besluit dat dit is waaroor die lewe gaan. Dit gaan nie oor die PhD wat op die rak staan en vir ‘n laaste keer ingegee moet word nie, dit is nie die rande werk wat jy verdien as jou dogtertjie alleen gaan slaap nie. Dit is verseker nie die klein wêreld wat jy vir jouself bou en die mishoop waarop jy al jare lank sit nie. Die klem verskuif vir ‘n paar jaar en dan fokus jy op ander dinge, of eerder ander mense.

Dis waar ek was. Die ander was steeds die fokus en hulle sal saamgaan. Vir die eerste keer in 15 jaar sal die familie mekaar daagliks sien, ervaar en beleef. Ons sal saam groei en saam suffer. Daarvan is ek seker.

Ek sien nie maanskyn en rose nie. Ek sien harde werk en baie beplan. Ons lees nou, google help en dan is daar ongelooflike vriende wat staaltjies vertel. Marindi Strauss dra haar fotoboeke, van jare terug se belewenis, vir ons aan. Ons kry handboeke om Spaans te leer. Kliënte vertel van sussies in Columbië en jy is dadelik genooi. So word ons onbekende wêreld daagliks kleiner.

Skielik ken ek iemand in Bogota, op ‘n online Mooc word jy genooi na dorpies en plekke wat jy nog nie raakgelees het nie, deur wild vreemde mense, Tom en Rosemary. Die online gemeenskap maak huise en deure oop.

Die besluit is geneem, nou is dit vir doen!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *